Ek dink ek is geseënd met ‘n paar talente…..een daarvan is om kos ordentlik te brand. Soveel so dat dit behoorlik ‘n uitdaging is om pot of pan weer bruikbaar te kry. Ek is nie ‘n multi tasker nie en wanneer ek die dag die kos brand is dit omdat ek nie gefokus gewerk het nie. En dit is gewoonlik omdat ek besig geraak het met iets anders en my neus my te laat in kennis gestel het van die tragedie op die stoof. So maak ek vir die Fourietjies Loaded Chicken Caserole. Heerlike spinasie gevulde hoenderborsies wat in die oond gebak word. Glad nie ‘n moeilike resep nie en een wat ek met gemak al ‘n paar keer gemaak het sonder enige insidente. ‘n Tipiese brandbestande resep. Een van die bestandele is Paprika en soos die noodlot dit wou hê is die Paprika met die maak van die gunsteling klaar. Al wat in die speseryrak is, is Cayenne peper. Ek is glad nie lus om te ry vir een bestandeel nie en dink by myself….albei is rooi, lyk dieselfde…..hoekom nie Cayenne substatitude vir die Paprika nie? Wat kan tog verkeerd gaan? Ons het aangesit vir ete, die Here gedank vir die heerlike bord kos wat ons gaan nuttig en lê weg. Blom verstik met die eerste hap dat die vlamme in haar keel nie geblus kan word nie…..net so terloops, die boereraad van melk werk glad nie. Manlief eet baie stadig en baie versigtig aan sy stukkie hoender, skraap sorgvuldig die sigbare gedeeltes van die Cayenne peper af. Nie seker hoe hy hierdie gesprek moet stuur om die minste skade aan te bring aan my reeds gekrenkde ego nie. Muis se reaksie op die spinasie gevulde hoenderborsies is eenvoudig: “Dis ‘n ander manier om kos te brand”


