Dit is Dinsdag vandag, maar iewers in die universele uitspansel van tyd was daar een groot boggerop want vandag was ‘n properse, potblou Maandag. Elke aand, voor slapenstyd, sit ek my klere reg vir die volgende dag. Ek is ‘n roetine mens wat nie goed op deurmekaargeit funksioneer nie. Met die aantrek van my gekose hemp is nie een nie, maar twee knope weg. Hoe verloor twee knope op dieselfde tyd? Ek kan nog een verstaan, maar twee? Die plan is toe om steeds die gekose truitjie bo-oor die knooplose hemp aan te trek, niemand gaan mos sien nie! Die probleem kom daarby dat die knope wat missing in action is, die twee laaste knope is en wat onder by die truitjie gaan uitloer. Nou is dit ‘n gepassery….wat baie sag moet gebeur want my man lê, lekker warm en snoesig, nog vas aan die slaap. Absoluut niks van my klere sit vanoggend reg nie. Knyp hier en plooi op al die verkeerde plekke. Na ‘n lang gespook is ek gereed om te begin met die verfyningsproses. Grimering is gedoen, nog net die hare wat geblaas moet word. Die het natuurlik begin droog word in die kophandoekie en my kuif staan in al wat ‘n windrigting is. Dit kos omtrent ‘n hele pot haar-putty en ‘n blik haarsproei om darem net skaflik my neus by die deur te kan uitsteek. Oppad uit voel ek ‘n gat waar my denim se lussie was. Die gat moet nou maar sit, ek trek nie weer vandag uit nie, behalwe om my PJ’s aan te trek en in die bed te klim.
Dis toe nou nog nie die einde nie… By die skool, waar ek geseënd is om te werk, is ek die guardian van die klokke. Ons gebruik ‘n baie oulike toep wat my in staat stel om die klokke op die regte tye te laat lui, sonder dat ek ‘n vinger hoef te lig! Maar die verdomde ding besluit nou al vir ‘n paar dae om net nie te lui wanneer hy moet nie. Ek uninstall en install, delete die kloktye en stel weer in – absoluut niks los die probleem op nie. Moeg gesukkel kontak ek die verskaffer van die toep dat hulle asseblief tog my net moet verlos van hierdie gesukkel. ‘n Baie vriendelik dame help my, maar ek waarsku haar dat ek net genoeg van tegnologie weet om gevaarlik te wees. Geduldig installeer ons ‘n beter, vinniger en sterker toep. Sy lui vir ‘n oomblik af terwyl ek net gou al die nitty gritty van wagwoorde op die nuwe toep uitsorteer. Ek is baie braaf en sien dat die nuwe toep baie dieselfde werk as die oue en ek begin sommer by my se selwers die tye weer programeer. En dis net hier waar dit my tussen die oë tref…..ek het nooit vir die klok gesê watter dae hy moet lui nie. Daarom het die blêrrie ding nooit gelui wanneer hy moes nie! Ek bel die vriendelik dame terug en vra haar dat sy asseblief nie moet lag nie, maar dat dit die operator is wat toe al die tyd die probleem was. Jy kon die lag in haar stem hoor, maar sy het haar pose mooi gehou. Met die aflui kon sy net nie meer uithou nie en ek is baie dankbaar dat ek haar lag vir die dag kon wees.
En toe is dit nog nie die einde nie…..amper aan die einde van my werksdag besluit my hoekie van ons oopplankantoor se netwerk om nie meer te werk nie. Net myne, niemand anders in die kantoor sukkel om te print, telefoon te antwoord en e-posse te ontvang nie. Net ek. En net daar besluit ek, ek verklaar hierdie dag gesluit, klaar en verby. Ons sal môre weer probeer.


